Go Turquoise > Go Turquoise  > Tooi Turkoois 2019

Tooi Turkoois 2019

Dagboek  : Woensdag 15 Mei 2019 Monument Tooi Turkoos Koors

AFTREE  :  BETEKEN  “NIKS DOEN

(Of doen dit?)

 Ons is nou professionele leeglêers, want ons het afgetree” is ’n uitdrukking wat ek deesdae nogal baie hoor, vandat ons ook die “aftree-era” bereik het.  Om ’n “leeglêer” te wees, (volgens my eie persoonlike opinie)  beteken op enige ouderdom, om niks te doen nie, nêrens heen te gaan nie en totaal en al onproduktief te wees in die samelewing.

Die algemene persepsie van aftrede – is inderdaad – om van nou af aan, niks te doen nie! Jy “hoef nie meer vroeg op te staan om te gaan werk nie;  jy hoef nie meer elke dag aan te meld vir diens nie en jy hoef ook nie meer verantwoordelik te wees vir ’n dagtaak wat verrig moet word nie!”

Die media, familie, grappies en stories wat die rondte doen, jong mense en ouer persone, versterk hierdie opinie en mening van ‘NIKSDOEN” wat oor die algemeen gehuldig word oor persone wat  afgetree het. En met hierdie persepsie dat  “Aftrede en Niksdoen” dieselfde betekenis het, tree mense sommer ook af van ’n wye verskeidenheid ander aktiwiteite.  Hulle “tree af” by gemeentes waar hulle altyd produktiewe medewerkers was.  Hulle “tree af” van welsynsorganisasies soos bv. Kindersorg of die SAVF of waar ook al hulle altyd behulpsaam was. Hulle “tree af’ van gesonde tydverdrywe soos oefen en stap of dans en trouens, dit lyk of baie sommer ook dan aftree van die lewe en hulle begin dadelik die “groot niksdoen” aanhang.

Niks kan verder van die waarheid wees as dat “Aftree en Niksdoen” outomaties ’n verband het nie.

Om af te tree uit ’n voltydse beroep behoort te beteken dat die ouerwordende persoon ’n “nuwe lewe” tegemoet moet stap.  ’n Lewe van heerlike nuwe vooruitsigte waar jy kan doen net waarvoor jy lus is.  Jy kan met groter toewyding behulpsaam by die kerk of enige ander organisasie wees want jy het nou die tyd daarvoor.  Jy kan die wêreld vol ry en nuwe dinge bekyk en beleef waarvoor jy nog nooit die tyd of geleentheid gehad het nie.  Jy kan vir jou kinders sê – “ons wil nie “dit of dat” doen nie – want ons is nie meer lus nie!”.

Ouerwordende persone kan nou met oorgawe kuier by vriende en nuwe dinge aanpak.  Hulle kan byvoorbeeld ’n “ete-klub” stig en een maal per maand iewers oulik gaan eet of beurte maak om by mekaar te eet. Hulle kan ’n prettige tema aan sulke geleenthede koppel.

Stig ’n groep wat gereeld museums en ander plekke van belang besoek. Stig ’n blomme- of tuinmaakklub. Gaan fliek. Kom bymekaar vir ’n boekklub of naaldwerk en hekel- en breiwerk.

Groepe kan bv. ’n bus huur en almal saam na die jaarlikse funksie vir bejaardes, wat by die Voortrekkermonument plaasvind, bywoon.

Die moontlikhede is legio.  Daar is sekerlik ongelooflik baie afgetrede en ouerwordende persone wat nog tientalle oulike voorstelle het om die lewe  met oorgawe te geniet!

Maar my pleidooi rig ek aan die duisende persone wat terugtrek en in hulle huisie of woonstelletjie gaan sit en vergaan van eensaamheid.

“Aftree” beteken onder geen omstandighede “niksdoen” nie.

“Aftree” beteken  verseker “nuwe-en-ander-goed-doen” uit dankbaarheid en uit suiwer genade dat daar nog ’n lewe is wat wag op die ouerwordende afgetredene.

Emiena