Go Turquoise > Uncategorized  > Ondersteuning vir bejaardes nodiger as ooit tevore

Ondersteuning vir bejaardes nodiger as ooit tevore

As jy dink Covid-19 het jou lewe omgekrap, plaas jouself bietjie in die skoene van ‘n ouer persoon in ‘n ouetehuis.

Jy word heeltemal geïsoleer van die samelewing, letterlik toegesluit. Alhoewel dit vir sy of haar beskerming bedoel is, voel die bejaarde soos die sondebok, die melaatse! Jy mag nie winkel toe gaan of buite die terrein gaan stap nie, jy mag niemand anders sien as die mense wat saam met jou in die tehuis ingeperk is nie. Jy het geen persoonlike vryheid meer oor nie en geen beheer oor jou kom en gaan nie. Jy voel soos ‘n magtelose kind. Al kontak wat jy met jou geliefdes het, is ‘n foonoproep af en toe, dws as jy ‘n telefoon het en weet hoe dit werk. Jou inkomste, as jy nie ‘n staatspensioen kry nie, het waarskynlik ook die afgelope twee maande drasties afgeneem en die toekoms lyk so onseker. Jy het nie meer ‘n verdienvermoë waarmee jy tekorte kan opmaak nie. Daardie geykte idee dat die ouetehuis die plek is waarheen mense gaan net om dood te gaan, vat al meer in jou kop pos. En dit terwyl jy eintlik nog talle goeie en gesonde jare oor het!

Met die jaarlikse veldtog, Tooi Turkoois vir Bejaardes, wat van 15 Mei tot 15 Junie strek, wys die samelewing op ‘n sigbare manier dat bejaardes en hul welstand vir ons belangrik is. Hierdie jaar het die ouer persone in ons land ons morele ondersteuning broodnodig, ja selfs meer as in vorige jare. Soos ons die gesondheidswerkers en ander wat noodsaaklike dienste in hierdie tyd verrig, vereer, kom ons doen ook so aan al die ouer persone wat op hierdie drastiese manier geïsoleer is en dus verhoed dat die gesondheidstelsel oorstroom word.

Suid-Afrikaners, kom ons wys met die kleur turkoois dat ons ouer persone nie vergete is nie, al sien ons hulle nie meer tussen ons nie. Kom ons wys vir hulle dat ons steeds omgee, al mag ons hulle nie besoek nie. Kom ons wys ons waardering en liefde vir hulle en sit ‘n turkoois strikkie aan ons maskers vas van 15 Mei tot 15 Junie.

Hierdie jaar sal daar nie soos in die verlede groot geleenthede wees waar ons ouer persone gevier kan word nie, maar kom ons verlig die nood waar ons kan, al is dit op ‘n afstand. Maak jou gesigmasker die simbool van omgee!

Magda van Deventer