Go Turquoise > Uncategorized  > Tooi Turkoois vir Bejaardes in Pretoria

Tooi Turkoois vir Bejaardes in Pretoria

Alle Suid-Afrikaners word genooi om hulself, hul strate en dorpe in turkoois te tooi vir bejaardes.

Die jaarlikse Tooi vir Turkoois vir Bejaardes-inisiatief vind weer vanjaar van 15 Mei tot 15 Junie plaas.

Alle Suid-Afrikaners word genooi om hulself, hul strate en dorpe in turkoois te tooi vir bejaardes.

Die Tooi Turkoois vir Bejaardes-inisiatief is ’n fondsinsamelingsprojek en nooi persone of organisasies wat betrokke wil raak, om:

– Turkoois items te dra vanaf 15 Mei tot 15 Junie om hul ondersteuning te toon.

– ’n Tehuis, aftreeoord, dienssentrum vir bejaardes, bejaardes van ’n spesifieke omgewing of ’n spesifieke groep bejaardes (byvoorbeeld van ’n spesifieke kerk gemeente) te identifiseer ten bate waarvan fondse ingesamel gaan word.

– Fondsinsamelingsinisiatiewe te hou ten bate van die geïdentifiseerde groep bejaardes.

Ons Tuis, ’n nie-winsgewende bejaardesorg instansie wat ’n antwoord bied op bejaarde versorging en akkommodasie in Pretoria, sal vanjaar aktief by Tooi Turkoois vir Bejaardes betrokke wees.

Volgens die voorsitter van die Direksie van Ons Tuis, Frikkie van Wyk, skep inisiatiewe soos Tooi Turkoois die geleentheid dat kritieke aspekte rondom bejaardes onder die loep kom en aangespreek word.

“Bejaardes in Suid-Afrika is ’n groep wat negatief geraak word deur beperkte dienste en verswakte instellings,” sê hy.

“Verder is daar bejaardes wat beïnvloed word deur beperkte pensioenfondse en beskikbaarheid van fondse.”

Van Wyk sê statistieke rondom bejaardes in Suid-Afrika lyk soos volg:

– Tans is daar net meer as 4.6 miljoen bejaardes (ouer as 60) in Suid-Afrika, waarvan 1 miljoen bejaardes reeds oor die ouderdom van 75 is.

– Die hele wêreld, insluitend Suid-Afrika, se bevolking is besig om ouer te raak as vroeër jare en dus gaan die aantal bejaardes binne die komende aantal jare aansienlik styg.

– Daar sal vir net vir ’n klein persentasie plek wees in bejaarde sorgsentrums en ander plekke waar hulle versorg kan word.

“In ’n poging om bejaardes en bejaarde-sorg weer onder die aandag van die algemene publiek te plaas en befondsing vir die doeleindes van bejaardeversorging te werf, glo ons dat die Tooi Turkoois inisiatief ’n groot bydrae lewer,” sluit Van Wyk af.

Berig uit Rekord Pretoria Moot.